
Ruiter in Swart
Reeks-Agtergrond & Historiese Aantekeninge
Kort op die Marc Condor reeks se hakke het die “Ruiter in Swart” reeks gevolg. Suid-Afrika het soos die res van die wêreld ook baie gehou van hulle “cowboy” verhale. Interessant is dat heelwat storieverhaal reekse, wat handel oor die “cowboy era” reeds in die vyftiger en sestiger jare verskyn het en toe al baie goed verkoop het. So het die Ruiter in Swart sy verskyning gemaak en een van die langs lopende en suksesvolste reekse geword. Teen die einde van die era het die boekies in A4 formaat in volkleur verskyn. Dit is ’n uiters skaars en gesogte versamelaars item vandag. Die reeks is waarskynlik vaagweg geskoei op die Gemaskerde Ruiter wat as onbekende geregsdienaar wet en orde in die woeste weste van Amerika moes handhaaf. In hierdie geval egter was dit die Transvaalse goudvelde en die woeste Laeveld. Die man in swart was net as Ben bekend. Ek verstaan dat hy in sommige boekies as Ben Brandt geïdentifiseer was. Hy was ’n ZARP man. Met ander woorde, ’n lid van die ou Transvaalse of Zuid-Afrikaanse polisiemag. Hy was ook ’n persoonlike vriend van ou President Kruger. Die ruiter was in swart geklee van kop tot tone en het twee rewolwers aan weerskante van sy sye gedra. Die kolwe was na vore gerig vir die sogenaamde “crossdraw.” Dit was as ’n kenmerk van ’n snelskut beskou. Hy was ook knap met die vuiste en daar was minstens een vuisgeveg in elke boekie. In die gebruiklike finale skietgeveg het hy gewoonlik sy teenstanders uitgeroei. Ben het ook ’n swart perd gehad met naam Satan. Hy is soms in die kleur voorblaaie ook op ’n bruin perd gesien. Om die waarheid te sê, op die meeste kleurblaaie het hy op ’n bruin perd gery. Kom ons noem dit maar ’n donker perd. ’n Perde kenner sal seker beter weet. In uitgawe 382 verskyn daar ’n swart wolfhond saam met hom op die toneel. Ek het nie ’n boekie met ’n naam van die hond nie. Miskien kan ’n ander versamelaar dalk hier help. Die rol is tot aan die einde vertolk deur Danie van Rensburg - wat die akteur naam van Vonk de Ridder gehad het. Hy het as Vonk de Ridder ook in ’n paar Afrikaanse “cowboy” flieks opgetree. Die fliek, “Voor sononder” saam met Dawid van der Walt is een van die wat ek goed kan onthou. Dieselfde fliek het ook as strokiesprent in die tydskrif “Brandwag” verskyn. Ben is die snelskut wat knap is met sy rewolwers maar het ook in die proses sy kwota wonde opgedoen. Sy teenstanders was geharde en wrede rampokkers van sy tyd. Daar was plaas rowers, veediewe, struikrowers, moordenaars en swendelaars van alle soorte. Kyk gerus ook na die Ruiter in Swart by Potpouri om meer van die verhale te wete te kom. Tans is Ruiter in Swart die enigste wat ’n webwerf onderhou. Ten tye van die skrywe was dit nog onder konstruksie. Google dit gerus as jy meer inligting wil bekom. Ek verstaan van ’n versamelaar dat daar tans ook DVD’s beskikbaar is, wat van die oorspronklike gerestoureerde fotoverhale bevat. Kyk gerus ook na die uitbreiding van hulle webwerf, (deur Koos Papenfus).
Voorblaaie & Uitgawes van Ruiter in Swart
Klik op enige voorblad om dit in volle resolusie in die ligkas te besigtig.






















































