
Die Wit Tier
Reeks-Agtergrond & Historiese Aantekeninge
As daar nou ooit ’n Swart Luiperd liefhebber was wat iets in die lyn van fotoverhale gesoek het en wat hom tevrede moes stel, was dit sekerlik die Wit Tier. Die Wit Tier het gelewe in ’n land met die naam Takaranië (Tanzanië?). Dit was klaarblyklik iewers op die vasteland van Afrika, maar was binne bereik van Suid-Afrikaners. Die Wit Tier was ’n oortuigend, sterk geboude jongman, wat soos ’n Tarzan van ouds in die oerwoud geleef het. Weereens weet ons nie wie die skrywer was of wie die titel rol vertolk het nie . Die verhale was vol avontuur en het lekker leesstof uitgemaak. Naas “Ruiter in Swart” en “Mark Condor”, was dit seker een van my persoonlike gunstelinge. Hy het talle oorspronklike avonture in oerwoud beleef. Daar was die geval van ’n vroulike breindokter wat sy verstand oorneem het asook vele gevegte met diere en krokodille. Daar was selfs ’n oervallei met ’n verlore stam en prehistoriese diere. Sy wapens was sy hande en sy mes, maar hy het ook van ’n geweer of pistool gebruik gemaak wanneer dit nodig was. Daar was ivoorsmokkelaars en wild stropers, selfs ook ruimtewesens wat die land besoek het. So was daar ook Arabiese slawe handelaars wat hom in die sand begrawe het, sodat die miere hom kon opvreet. Hy was ook deur ’n verlore vroue stam gevange geneem. Natuurlik was daar ook altyd ’n mooi meisie in die omtrek om hom in sy tyd van nood te red. Op ’n manier herinner die verhale my baie aan die avonture van die Skim, wat deur Lee Falk geskep was. Beide beleef hulle avonture in ’n denkbeeldige land wat tussen die oertyd en die beskawing is. In die Skim was die denkbeeldige land natuurlik Bengalië. Dit was dan natuurlik vir die skrywer moontlik om sy verbeelding meer vrye teuels te kon gee, (deur Koos Papenfus).
Voorblaaie & Uitgawes van Die Wit Tier
Klik op enige voorblad om dit in volle resolusie in die ligkas te besigtig.

























